Kevin Skinner se vuiste raak stil

Deel met iemand










Stuur
Jaap Bekker na die 3de toets in 1956

Jaap Bekker na die 3de toets in 1956

Kevin Skinner, wat die All Blacks se gesukkel teen die Springbokskrum van 1956 met sy vuiste moes regmaak – en dit gedoen het – is Maandag in die ouderdom van 86 in Auckland oorlede.

Skinner was die Nieu-Seelandse swaargewig bokskampioen en het in 1954 sy rugbyuittrede aangekondig nadat hy in 1949 sy toetsbuiging in die reeksneerlaag van 0-4 teen die Springbokke in Suid-Afrika gemaak het.

In 1956 het die Springbokstutte Jaap Bekker en Chris Koch die All Blacks in die eerste twee toetse flenters geskrum. Skinner is uit die rugbywildernis teruggebring en het letterlik van die een kant na die ander in die skrums gewissel en ongestraf deur die toets gespeel terwyl veral Jaap Bekker ná die wedstryd gelyk het of hy deur `n vleismeule was (sien foto by hierdie artikel).

Die All Blacks het die kritieke derde toets en toe ook die vierde gewen en Suid-Afrika daarmee sy eerste reeksneerlaag sedert 1896 toegedien.

Skinner het in 20 toetse vir die All Blacks gespeel en hulle twee keer aangevoer. Hy het daarna as afrigter en administrateur gewerk.