Toe die Skotte bly was oor nul

Skotland teen Suid-Afrika 1951. Foto:Getty Images

Skotland teen Suid-Afrika 1951.
Foto:Getty Images

Org Potgieter

Dit gebeur nie dikwels dat agt spelers in dieselfde span saam nege drieë druk nie, maar dit was Skotland se lot op Murrayfield op 24 November 1951.

Die bekende annekdote wat met hierdie toets verbind word, is dié van ‘n taxibestuurder wat gevra is wat die telling was. “44-0,” was sy antwoord. “En ons was dêm gelukkig om daai nul te kry.”

Met sewe doele, twee drieë en ‘n skepdoel sou dit in vandag se puntestelsel nog erger gewees het: 62-0.

Die Bokke was na 15 minute nog punteloos, maar daarna het dit drieë op die droë veld begin reën op ‘n dag wat al die meetsnoere op die regte plekke geval het. Dit was ook die wedstryd van 13’s: Die 13de toerwedstryd, 13 jaar na die Bokke se vorige oorsese toets en die Bokke se 13de toets in die VK. Net een 13 het ontbreek: Daar was geen speler met hierdie nommer op sy rug nie.

Hansie Brewis het die spel as losskakel beheer soos net hy kon, terwyl voor- en agterspelers in perfekte kombinasie soms van hul eie doellyn begin hardloop het.

Die vorige toets teen die Skotte – in 1932 – is op ‘n modderveld gespeel en is in die annale ook bekend vir die handeling van die legendariese Boy (looks at the scoreboard) Louw.

Bennie Osler (losskakel) was die gevierde, gerespekteerde en gesaghebbende kaptein van die Bokke; Boy die leier van die voorspelers. In een stadium het Osler, wat bekend was vir sy genialiteit en outokratiese kapteinstyl, besluit om van taktiek te verander. Craven moes die bal by die skrum ingooi, en Osler het geroep dat hy die aangee wil hê.

Boy Louw het anders besluit. “Hou die bôl onder die forwards!” het hy geskree.

“Laat kom vir my!” was Osler se teenopdrag. Die uiteenlopende opdragte is twee keer herhaal, voordat Boy sy kop uit die skrum geruk en vir Bennie toegesnou het,

“Kom, stront met jou, Bennie!”

Dit was maar Craven se derde toets, en hy was verskeur tussen die twee  bevele. Totdat hy onthou het wat die legendariese oubaas Mark Markötter hom op Stellenbosch ingedril het: “Op ‘n modderveld speel ‘n skrumskakel met sy voorspelers, of anders skop hy die bal.”

Craven vertel dan verder hoe hyself later die wendrie gedruk het deur die bal voorlangs onder die sterk manne te hou. Eindtelling 6-3. Hy vertel ook dat Oom Boy die leier van die voorspelers was en nooit na sy kaptein geluister het nie. By geleentheid het hy dit so opgesom: “”You make the speeches, I lead the pack.”

Die Bok-span in die 44-0-toets was (driedrukkers word met ’n asterisk aangedui):

Johnny Buchler; Buks Marais, Ryk van Schoor*, Tjol Lategan, Paul Johnstone; Hansie Brewis, Fonnie du Toit; Okey Geffin, Willem Delpoert, Chris Koch**, Jaap Bekker, Basie van Wyk*, Salty du Rand*, Ernst Dinkelmann*, Stephen Fry, Hennie Muller* (k). Doelskoppe: Geffin (7), Skepdoel: Brewis.

 

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

*